ChatGPT kan sy kunsmatige intelligensie (KI) inspan om te dig, tog is min navorsing beskikbaar om die implikasies daarvan te begryp. Vir die doel van hierdie verkennende gevallestudie het ek tien kort digsoorte gekies om te bepaal in hoe mate ChatGPT (a) in Afrikaans kan dig en (b) sy digkuns kan regverdig (outeurspoëtiek). Daar is eerstens bevind dat ChatGPT al tien digsoorte (100%) kon skep, waarvan 70%, met of sonder wenke, aan al die vereistes voldoen het. Die res (30%) het gedeeltelik voldoen, maar ChatGPT kon nie wenke gebruik om probleme met hoeveelheid lettergrepe per reël en ritme op te los nie. Tweedens kon ChatGPT sy digkuns regverdig, maar dit het soms gejok, nuwe gedigte geskep wat ook nie voldoen het nie en probeer oortuig dat dit dan korrek is. Dit het belangrike implikasies vir die praktyk, aangesien verskeie faktore die opneem van hierdie KI-digter kan bevorder. Daarom bespreek ek die implikasies in meer besonderhede wat strategieë vir die gebruik, maar ook bekamping van misbruik, insluit. Nadat ek idees vir verdere navorsing voorgestel het, sluit ek met ’n slotgedagte.