Logo Lanfrica

Pedagogiese tolking as ’n onderrigtegniek vir Afrikaanstweedetaalverwerwing (deel 1)

Domaine:

natural language processingeducation

Type de record:

paper
Créateur:
UniKanElbUni
Éditeur:
Lit
Hôte:
Opsomming Hierdie artikel is die eerste van twee artikels wat verslag doen van ’n studie uit die eerste outeur se meestersverhandeling1 in Vertaling. In die eerste artikel word pedagogiese tolking as ’n taalonderrigtegniek bespreek terwyl die tweede artikel oor pedagogiese tolking as ’n interaktiewe taak uitbrei. Daar is ’n behoefte aan ’n kommunikatiewe onderrigtegniek wat verhoogde kommunikatiewe vaardighede in Afrikaans sal kweek omdat Afrikaanstweedetaalstudente in ons ervaring nie die taal na behore vaardig is nie. Die studie ondersoek die werkbaarheid van pedagogiese tolking as ’n onderrigtegniek vir die doel van interaksie. Die tegniek word in ’n taakgebaseerde raamwerk in studente van die Universiteit Stellenbosch (US) se Afrikaanse Taalverwerwing-klaskamers geïmplementeer. Die navorsing berus op die vraag of pedagogiese tolking waarde en uitdagings al dan nie vir Afrikaanstweedetaalverwerwing inhou. Tolking as interaksie (Wadensjö 1998) en pedagogiese tolking as onderrigtegniek (Van der Merwe 2019) dien as die teoretiese raamwerke. Pedagogiese tolking het betrekking op sigtolking en skakeltolking, wat as bruikbaar vir die studie geag is. Daar is ook gekyk na die raamwerk van tolking as interaksie in Tolkwetenskap. Die navorsingsontwerp vir die empiriese ondersoek is deelnemende aksienavorsing met ’n gevallestudiekomponent. ’n Gemengde navorsingsmetode is gebruik. Drie taakgebaseerde tutoriale met ’n voortaak, hooftaak en nataak is ontwerp en met 21 Afrikaanse Taalverwerwing-studente aan die Universiteit Stellenbosch uitgevoer. Deelnemerwaarneming is gebruik om te bepaal tot watter mate die deelnemers hul rolle in die hooftaak suksesvol vervul (gegewe die moeilike aard van tolking), en vraelyste is gebruik om die deelnemers se perspektief op pedagogiese tolking as onderrigtegniek te bepaal. In die voortaakfase het die deelnemers ’n breinkaart gemaak en onderskrifte met behulp van pedagogiese sigtolking getolk, en ’n video-onderhoud gekyk wat uitbeeld hoe skakeltolking werk. Die hooftaak het die vorm van pedagogiese skakeltolking met rolspel aangeneem waar elke student ’n beurt gekry het om die rol van ’n Engelse karakter en die rol van die tweetalige studentetolk te vervul. As tutor het die eerste outeur die rol van die Afrikaanse onderhoudvoerder ingeneem. Daar is bevind dat minimale uitdagings rakende afwykings van rolvervulling ontstaan, wat wel bestuur en uiteindelik uitgeskakel kan word. Verder hou pedagogiese tolking as taalonderrigtegniek waarde vir Afrikaanse begrip, woordeskat, uitspraak en selfvertroue in Afrikaanse spraakvaardighede in. Al die deelnemers het aangedui dat pedagogiese tolking ’n waardevolle, genotvolle en vernuwende onderrigtegniek vir Afrikaanstweedetaalverwerwing is. Trefwoorde: Afrikaanstweedetaalverwerwing; pedagogiese tolking; rolvervulling; sigtolking; skakeltolking

Languages

Similaires