Dit is duidelik uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis van die afgelope 27 jaar dat die toesigrol in ons parlement tekortskiet. Oor die algemeen is die parlement veronderstel om toesig oor die kabinet te bied en dit sluit sowel opposisiepartye se lede van die parlement (LP’s) as die regerende party se LP’s in. Verder het opposisiepartye spesifiek die rol om deur die strukture van die parlement toesig oor die regerende party uit te oefen, maar dit kan met so ’n dominante meerderheidsparty soos die ANC slegs geskied met behulp van die ANC self. Dit is dan geen verrassing nie dat die grondwet se instansies erg verpolitiseer is en regstellende aksie ingespan word as ’n wapen om Suid-Afrika af te takel en te plooi na die wil van die ANC. Die enigste instelling wat sover staande kon bly is die parlementêre opposisie en die toesigrol wat dit verrig. Hierdie toesig is baie belangrik in enige regering, des te meer in ’n demokrasie. Demokrasie se kernwaarde is verteenwoordiging en gelykheid daarin. Demokrasie word juis hierdeur van outoritarisme onderskei: deurdat die verkose regering nie alleenreg op al die mag het nie, maar deur regulering (lees “toesig”) aan bande gelê word om sodoende toe te sien dat hulle die mense dien eerder as hulself. Omdat die regerende party in Suid-Afrika oor die meerderheid setels in die parlement beskik, word hierdie rol van toesig aan die opposisie oorgelaat en tans geweldig belemmer. Tog werk opposisiepartye baie hard om toesig en verantwoordbaarheid te bewerkstellig. Die opposisie was egter magteloos om die ANC se outoritêre oorname van die staat te stop. Ondanks hul geweldige pogings, bly die toesig wat hulle kan uitoefen minimaal. Hierdeur word die parlement gereduseer tot ’n instrument van die ANC, vir die uitvoering van sy ideologie en bemagtiging van sy elitekaders, ten koste van Suid-Afrika. Steeds word die opposisie toegelaat om te bestaan om ’n vorm van skynlegitimiteit te verkry. Die doel van die artikel is om te ondersoek wat die oorsprong van die oënskynlik oneffektiewe toesigrol binne die parlement is en wat die struikelblokke is wat opposisiepartye in hierdie verband ervaar. Struikelblokke het betrekking op verskeie van die idees en/of instellings wat die Suid-Afrikaanse staatsbestel definieer en in stand hou. Die ligpunt hier is dat opposisiepartye wel af en toe toesig en wetgewing uitgeoefen kry, maar dit is die uitsondering eerder as die reël. Die belangrikste bevindings van die artikel dui daarop dat die opposisie in die parlement ’n groter en belangriker rol as die regering speel om op te tree as die beskermer van die Suid-Afrikaanse grondwet en die burgers van die land. Trefwoorde: demokrasie; grondwet; legitimiteit; mislukte staat; toesig; opposisie; parlement; politiek; regstaat; staat; Suid-Afrika; wetgewer